Tuesday, June 8, 2010

AfriForum Jeug verkla Fifa en Plaaslike Reëlingskomitee by MRK


AfriForum Jeug het vandag ʼn formele klag teen Fifa en die Plaaslike Reëlingskomitee van die 2010 Fifa-wêreldbeker by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) se hoofkantoor in Johannesburg indien. Hierdie klagte volg nadat die Potchefstroom-munisipaliteit AfriForum Jeug in kennis gestel het dat hul aansoek om op 10 Junie by die borgverhoor van die beskuldigdes wat daarvan aangekla word dat hulle die Potchefstroomse boer, Johan Strydom, vermoor het deur hom lewendig agter ʼn bakkie te sleep, te protesteer, afgekeur is.

In die skrywe wat aan AfriForum Jeug gerig is, word verduidelik dat Fifa en die Plaaslike Reëlingskomitee ʼn moratorium op die hou van protesaksies tydens die Sokkerwêreldbeker geplaas het.

“Die moratorium is direk in stryd met artikel 17 van die Grondwet, wat ons reg om vreedsaam te betoog verskans,” het Ernst Roets, AfriForum Jeug se nasionale voorsitter, gesê. “Die saak waaroor ons wil betoog, het te doen met die grusaamste vorm van geweld denkbaar. Om ons regte in hierdie verband te skend omdat daar ʼn sporttoernooi aangebied word, is totaal onaanvaarbaar.”

In die lig van die skending van AfriForum Jeug se reg om te betoog sal AfriForum Jeug ʼn minidokumentêr oor plaasmoorde internasionaal bekendstel in die komende week. Die dokumentêr sal handel oor plaasmoorde in Suid-Afrika en die rol wat Peter Mokaba daarin gespeel het. AfriForum Jeug sal pertinent ook beswaar maak teen die feit dat ʼn sokkerstadion na Peter Mokaba vernoem is, ten spyte daarvan dat hy rassegeweld en plaasmoorde in Suid-Afrika aangemoedig het en dat hy die regering beïnvloed het om die bestaan van HIV/vigs te ontken.

No comments:

Post a Comment